Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:16-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Miga sê toe vir hom:“Ek het in ’n visioen gesien dat Israel verstrooi is op die berge, soos skape sonder ’n herder.Die Here sê: ‘Hulle leier is doodgemaak. Laat elkeen in vrede na sy huis toe gaan.’”

17. “Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.”

18. Miga het voortgegaan: “Luister na wat die Here sê! Ek het die Here sien sit op sy troon met al die hemelse leërs aan sy regterkant en aan sy linkerkant.

19. En die Here het gesê: ‘Wie sal koning Agab van Israel oorhaal om oorlog teen Ramot-Gilead te maak sodat hy daar kan omkom?’ Daar was baie voorstelle,

20. tot ’n gees na die Here kom en sê: ‘Ek kan dit doen!’“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here.

21. “Die gees antwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oorhaal om leuens te vertel.’“‘Jy sal suksesvol wees,’ sê die Here. ‘Gaan en doen dit!’

22. “Só het die Here ’n leuengees in die monde van u profete gegee, want die Here het bepaal dat ’n ramp u sal tref.”

23. Sedekia seun van Kenaäna gaan toe na Miga en slaan hom deur die gesig: “Wanneer het die Gees van die Here my verlaat om met jou te praat?” vra hy.

24. Miga antwoord hom: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

25. Koning Agab het toe beveel: “Vat Miga en neem hom na Amon, die stadsbevelvoerder en na my seun Joas.

26. Gee hulle hierdie opdrag van die koning: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom net brood en water totdat ek veilig terugkeer van die oorlog!”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18