Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 13:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Hulle bring brandoffers en wierook aan die Here, elke oggend en elke aand. Hulle sit die offerbrode op die heilige tafel, en hulle steek elke aand die goue kandelare se lampe op. Ons volg die voorskrifte van die Here ons God, maar julle het Hom verlaat.

12. Kyk net, God is aan ons kant. Hy is ons Leier. Sy priesters blaas hulle trompette en lei ons in die geveg teen julle. Israeliete, moenie teen die Here die God van julle voorouers veg nie, want julle sal nie suksesvol wees nie!”

13. Intussen het Jerobeam in die geheim deel van sy leër agter óm die manskappe van Juda gestuur om hulle in ’n hinderlaag te lei.

14. Toe Juda agterkom dat hulle van voor en van agter aangeval word, het hulle tot die Here om hulp geroep. Die priesters het hulle trompette geblaas

15. en die manne van Juda het ’n oorlogskreet aangehef. God het Jerobeam en die hele leër van Israel ’n neerlaag teen Abia en Juda laat ly.

16. Die leër van Israel het voor Juda uit gevlug en God het hulle in die mag van Juda oorgegee.

17. Abia en sy leër het ’n groot slagting aangerig. Daar was 500 000 gesneuweldes onder die uitgesoekte leër van Israel.

18. Juda het Israel verslaan omdat hulle op die Here die God van hulle voorouers vertrou het.

19. Abia en sy leër het Jerobeam se magte agternagesit en sommige van die dorpe, insluitend Bet-El, Jesana en Efron, asook die omliggende dorpies beset.

20. Gedurende Abia se bewind het Jerobeam van Israel nooit weer sy mag herwin nie. Die Here het hom getref sodat hy gesterf het.

21. Abia van Juda het egter al sterker geword. Hy het veertien vroue, 22 seuns en sestien dogters gehad.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 13