Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Spoedig was elke kruik propvol!“Bring vir my nog ’n kruik,” sê sy vir een van haar seuns.“Daar is nie meer nie!” sê hy vir haar. Toe het daar nie meer olie uit die kan gekom nie.

7. Sy het vir die man van God gaan vertel wat gebeur het. Hy sê vir haar: “Gaan verkoop nou die olie en betaal jou skuld. Van dit wat oorbly, kan jy en jou seuns lewe.”

8. Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet.

9. Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God.

10. Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.”

11. Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus.

12. Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou.” Toe sy daar aankom,

13. sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’”“Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.”

14. Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?”Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.”

15. “Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan:

16. “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!”“Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.”

17. Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het.

18. Toe die kind groter geword het, het hy op ’n keer na sy pa toe gegaan waar hy en die werkers besig was om te oes.

19. Skielik roep hy: “My kop! My kop!”Sy pa sê toe vir een van die werkers: “Dra hom na sy ma toe.”

20. Die dienaar het hom huis toe ge-neem en sy ma het hom op haar skoot vasgehou. Teen die middag het hy egter gesterf.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4