Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.”

11. Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus.

12. Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou.” Toe sy daar aankom,

13. sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’”“Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.”

14. Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?”Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.”

15. “Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan:

16. “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!”“Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.”

17. Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het.

18. Toe die kind groter geword het, het hy op ’n keer na sy pa toe gegaan waar hy en die werkers besig was om te oes.

19. Skielik roep hy: “My kop! My kop!”Sy pa sê toe vir een van die werkers: “Dra hom na sy ma toe.”

20. Die dienaar het hom huis toe ge-neem en sy ma het hom op haar skoot vasgehou. Teen die middag het hy egter gesterf.

21. Sy dra hom toe boontoe en lê hom op die bed van die man van God neer, gaan uit en trek die deur toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4