Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op ’n dag kom die weduwee van een van die profete na Elisa toe en bekla haar nood by hom: “My man, u dienaar, is dood. U weet hoe hy die Here gedien het. Nou dreig die skuldeiser om my twee seuns as slawe weg te neem.”

2. “Wat kan ek doen om jou te help?” vra Elisa. “Sê vir my, wat het jy in jou huis?”“Hoegenaamd niks nie, behalwe ’n kan met olie,” antwoord sy.

3. Toe sê Elisa: “Gaan leen leë kruike by al jou bure. Leen soveel as wat jy kan kry.

4. Dan moet jy en jou seuns in jou huis ingaan en die deur agter julle toemaak. Maak dan al die leë kruike vol olie. Dié wat vol is, moet jy een-kant sit.”

5. Sy het gedoen soos hy gesê het en die deur agter hulle toegemaak. Haar seuns het die kruike vir haar gebring, en sy het die een na die ander vol gemaak.

6. Spoedig was elke kruik propvol!“Bring vir my nog ’n kruik,” sê sy vir een van haar seuns.“Daar is nie meer nie!” sê hy vir haar. Toe het daar nie meer olie uit die kan gekom nie.

7. Sy het vir die man van God gaan vertel wat gebeur het. Hy sê vir haar: “Gaan verkoop nou die olie en betaal jou skuld. Van dit wat oorbly, kan jy en jou seuns lewe.”

8. Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet.

9. Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God.

10. Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.”

11. Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus.

12. Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou.” Toe sy daar aankom,

13. sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’”“Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.”

14. Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?”Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4