Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:23-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Toe die leërbevelvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja as goewerneur aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netufa, en Jaäsanja uit Maäka en al hulle manskappe.

24. Gedalja verseker toe vir hulle met ’n eed: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en dien die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”

25. Maar teen middelherfs van daardie jaar het Ismael seun van Netanja kleinseun van Elisama wat uit die koninklike geslag was, saam met tien manne na Mispa toe gegaan en Gedalja aangeval en doodgemaak, asook die Judeërs en Galdeërs wat by hom was.

26. Toe het almal, klein en groot, uit vrees vir die Galdeërs paniekbevange saam met die leërbevelvoerders na Egipte toe gevlug.

27. In die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die 27ste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak koning van Babel geword en Jojagin uit die gevangenis vrygelaat.

28. Hy het Jojagin begenadig en hom ’n hoër status as die ander konings in Babel gegee.

29. Jojagin is toegelaat om sy tronkklere uit te trek en kon vir die res van sy lewe van die koninklike voorrade lewe.

30. Hy het vir sy daaglikse behoeftes lewenslank ’n vaste toelaag van die koning ontvang.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25