Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 24:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Toe Jojakim sterf, het sy seun Jojagin hom opgevolg.

7. Die koning van Egipte het daarna nooit weer buite sy land oorlog gemaak nie, want die koning van Babel het die hele gebied beset wat Egipte voorheen oorheers het, vanaf die Egiptespruit tot by die Eufraatrivier.

8. Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Negusta, die dogter van Elnatan uit Jerusalem.

9. Jojagin het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa gedoen het.

10. Gedurende Jojagin se bewind het die leër van koning Nebukadnesar van Babel opgetrek teen Jerusalem en dit beleër.

11. Koning Nebukadnesar van Babel het self gedurende die beleg daar aangekom.

12. Toe het koning Jojagin en sy ma, sy amptenare en sy offisiere hulle aan die koning van Babel oorgegee.Tydens die agtste jaar van Nebukadnesar se bewind het hy Jojagin gevange geneem.

13. Soos die Here voorheen gesê het, het Nebukadnesar al die skatte van die Here se tempel en die koninklike paleis gevat. Hy het al die goue artikels wat koning Salomo in die tempel gesit het, stukkend gebreek.

14. Koning Nebukadnesar het almal in Jerusalem weggevoer: al die offisiere, al die soldate – 10 000 in getal, al die ambagsmanne en smede. Net die armste mense is in die land agtergelaat.

15. Nebukadnesar het koning Jojagin, sy ma, sy vroue, sy amptenare en al die vooraanstaande mense van Jerusalem as gevangenes na Babel toe geneem.

16. Hy het ook 7 000 van die weerbare manne en 1 000 vakmanne en smede, almal wat geskik was vir oorlog, saamgeneem na Babel toe.

17. Daarna het die koning van Babel vir Mattanja, Jojagin se oom, as koning aangestel en sy naam na Sedekia verander.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 24