Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Die ander gebeurtenisse tydens Asarja se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

7. Toe Asarja sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.

8. In die 38ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda, het Sagaria seun van Jerobeam II koning geword oor Israel. Hy het ses maande in Samaria regeer.

9. Maar Sagaria het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.

10. Sallum seun van Jabes het teen Sagaria saamgesweer, hom voor almal vermoor en in sy plek koning geword.

11. Die ander gebeurtenisse tydens Sagaria se regering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

12. Op hierdie manier het die Here se boodskap aan Jehu waar geword, naamlik: “Jou nageslag sal tot die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

13. Sallum seun van Jabes het koning oor Israel geword in die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda. Sallum het net een maand in Samaria geheers.

14. Toe het Menahem seun van Gadi uit Tirsa na Samaria toe gegaan. Hy het Sallum seun van Jabes aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg.

15. Die ander gebeurtenisse tydens Sallum se bewind en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

16. Menahem het die dorp Tifsag aangeval en almal tot so ver as Tirsa doodgemaak omdat die inwoners geweier het om hulle poorte vir hom oop te maak. Hy het al die inwoners doodgemaak en selfs swanger vroue oopgesny.

17. In die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda het Menahem seun van Gadi begin om oor Israel te regeer. Hy het tien jaar in Samaria regeer.

18. Maar Menahem het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Gedurende sy hele bewind het hy nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.

19. Koning Tiglat-Pileser van Assirië het die land binnegeval. Menahem het hom toe 34 ton silwer betaal om sy steun te kry sodat hy ’n beter houvas op die koningskap kon uitoefen.

20. Menahem het die geld by die rykes in Israel bekom deur te eis dat elkeen van hulle 570 gram silwer as bykomende belasting moes betaal. Die koning van Assirië het toe sy manskappe onttrek en die land verlaat.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15