Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Op ’n dag stuur Amasia hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas, seun van Joahas en kleinseun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar!”

9. Maar koning Joas van Israel antwoord koning Amasia van Juda: “Die doringbos op die Libanon het ’n boodskap aan die sederboom op die Libanon gestuur: ‘Gee my jou dogter as vrou vir my seun.’ Maar ’n wilde dier van die Libanon het daar verbygekom en die doringbos vertrap.

10. Jy het wel vir Edom verslaan, maar nou gaan dit na jou kop toe. Wees nou tevrede met jou oorwinning en bly tuis! Hoekom soek jy moeilikheid wat vir jou en Juda saam met jou ellende sal bring?”

11. Maar Amasia wou nie luister nie. Koning Joas van Israel het toe sy leër opgeroep om teen koning Amasia oorlog te maak. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem.

12. Die leër van Israel het egter vir Juda verslaan en die manskappe het huis toe gevlug.

13. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang. Daarna ruk hy op na Jerusalem toe waar hy ongeveer 180 meter van Jerusalem se muur afgebreek het. Dit was vanaf die Efraimspoort tot by die Hoekpoort.

14. Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe uit die tempel van die Here en die skatkamers van die paleis gevat en saam met gyselaars na Samaria toe geneem.

15. Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Ahasia van Juda is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

16. Toe Joas sterf, is hy in Samaria by die ander konings van Israel begrawe. Sy seun Jerobeam II het hom opgevolg.

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar gelewe.

18. Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se bewind is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

19. Daar is in Jerusalem teen Amasia saamgesweer sodat hy na Lakis gevlug het. Sy vyande het egter mense agter hom aan gestuur en hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy liggaam op perde na Jerusalem toe gebring en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14