Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 4:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Israel het opgetrek om teen die Filistyne oorlog te maak. Hulle het by Eben-Haeser kamp opgeslaan en die Filistyne by Afek.

2. Hulle het stelling ingeneem teenoor Israel. In die geveg het die Filistyne Israel verslaan en 4 000 soldate doodgemaak.

3. Ná die geveg het die Israeliete teruggegaan na hulle kamp toe. Die leiers het gevra: “Hoekom het die Here toegelaat dat die Filistyne ons verslaan? Kom ons kry die verbondsark van die Here wat in Silo is en neem dit saam na die slagveld toe. Dit sal ons red van ons vyande.”

4. Hulle stuur toe mense na Silo en gaan haal die verbondsark van die Here, die Almagtige, Hy wat oor die gerubs troon. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was by die verbondsark.

5. Toe die Israeliete sien dat die verbondsark van die Here die kamp ingebring word, het hulle gejuig van blydskap. Die gejuig was so hard dat die grond gebewe het.

6. “Wat gaan aan?” het die Filistyne gevra. “Waaroor gaan al die geskreeu in die kamp van die Hebreërs?” Toe hulle hoor dat die verbondsark van die Here daar aangekom het,

7. was hulle paniekbevange. “Hulle God het in hulle kamp aangekom!” het hulle uitgeroep. “Dit is ’n ramp! So iets het nog nooit gebeur nie!

8. Wie kan ons red van hierdie magtige God van Israel? Dit is dieselfde God wat Egipte in die woestyn met allerlei plae geteister het.

9. Filistyne, julle sal met mag en mening moet veg! As julle dit nie doen nie, sal ons die slawe van die Hebreërs word soos hulle ons slawe was!”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 4