Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Hy het beslag gelê op al die kleinvee en beeste. Sy manskappe het dit voor hulle uit aangejaag en gesê: “Dit is Dawid se beloning!”

21. Toe hulle by die Besorspruit kom, het die 200 manskappe wat te moeg was om saam te trek, Dawid en sy mense ingewag. Dawid het toe gevra hoe dit met hulle gaan.

22. Maar al die moeilikheidmakers en twissoekers onder dié wat saam met Dawid was, het gesê: “Hulle het nie met ons saamgegaan nie. Daarom mag hulle niks van die buit kry nie. Gee net hulle vroue en kinders terug en laat hulle gaan.”

23. Maar Dawid sê: “Nee, my broers! Moenie selfsugtig wees oor dit wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons bewaar en die stroperbende in ons mag oorgegee.

24. Wie sal na so ’n voorstel luister? Nee, ons deel gelykop: dié wat die pakgoed opgepas het, kry net soveel as dié wat gaan veg het.”

25. Van toe af het dit ’n voorskrif vir Israel geword, tot vandag toe.

26. Toe hulle by Siklag aankom, stuur Dawid ’n deel van die buit na sy vriende, die leiers van Juda, en sê: “Hier is ’n geskenk vir julle uit dit wat ons by die vyande van die Here buitgemaak het.”

27. Die geskenke is na die leiers van die volgende stede en dorpe gestuur: Bet-El en Ramot in die Suidland, Jattir,

28. Aroër, Sifmot, Estemoa,

29. Rakal, die dorpe van die Jeragmeëliete, die dorpe van die Keniete,

30. Gorma, Bor-Asan, Atak,

31. Hebron en oral waar Dawid en sy manskappe rondgetrek het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30