Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Dis soos die spreekwoord lui: ‘Van slegte mense kom slegte dinge.’“Ek self, egter, sal u nooit kwaad aandoen nie.

15. Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie is dit wat u agtervolg? ’n Dooie hond? Een enkele vlooi?

16. Die Here is die regter en sal tussen ons uitspraak lewer. Hy sal my saak behartig en my uit u mag bevry!”

17. Nadat Dawid dit gesê het, antwoord Saul: “Is dit regtig jy, my seun Dawid?” Hy het begin huil

18. en sê vir Dawid: “Jy is ’n beter man as ek, want jy het aan my goedgedoen, maar ek wou dit met kwaad vergeld.

19. Deur my nie dood te maak nie het jy vandag bewys dat jy goed wil doen aan my. Die Here het my in jou mag oorgelewer, maar jy het my nie doodgemaak nie.

20. “Wie sal toelaat dat sy vyand wegkom terwyl hy hom in sy mag het? Mag die Here jou beloon omdat jy vandag vir my goed was.

21. Ek weet dat jy sekerlik koning sal word en dat die koningskap in Israel onder jou leiding gevestig sal word.

22. Lê nou ’n eed af voor die Here dat wanneer dit gebeur, jy nie my familie sal uitroei en my naam sal uitwis uit my nageslag nie.”

23. Dawid het toe ’n eed afgelê, en Saul is terug na sy huis toe. Maar Dawid en sy manskappe het na hulle bergskuiling toe teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24