Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:3-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Sy manskappe sê egter vir hom: “Wag ’n bietjie! Selfs hier in Juda voel ons onveilig. Moet ons dan nou na Keïla toe gaan en die hele Filistynse mag daar teen ons kry?”

4. Dawid vra toe weer vir die Here, en die Here het herhaal: “Gaan na Keïla toe, want Ek sal jou help om die Filistyne te verslaan.”

5. Dawid en sy manskappe het toe na Keïla toe gegaan. Hulle het die Filistyne verslaan, al hulle vee buitgeneem en die inwoners van Keïla bevry.

6. Die priester Abjatar seun van Agimelek wat na Dawid toe gevlug het, het die skouerkleed saamgebring na Keïla toe.

7. Saul het gehoor dat Dawid in Keïla was. “God het hom aan Dawid onttrek!” het hy gesê. “Nou is hy in ons mag, want deur in ’n ommuurde dorp met grendels te skuil, het hy homself opgesluit.”

8. Saul het toe sy hele leër bymekaargemaak om na Keïla te gaan en Dawid en sy manskappe daar te beleër.

9. Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die Here te hoor wat hom te doen staan.

10. Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is.

11. Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.”Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.”

12. Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?”En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.”

13. Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie.

14. Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.

15. Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23