Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 16:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Terwyl Dawid daar tussen sy broers staan, neem Samuel die olie wat hy saamgebring het en gooi dit uit op Dawid se kop. Van toe af het die Gees van die Here kragtig in hom gewerk. Daarna het Samuel na Rama toe teruggegaan.

14. Maar die Gees van die Here het Saul verlaat. ’n Bose gees wat die Here gestuur het, het hom geteister.

15. Toe sê sy amptenare vir hom: “Dis duidelik dat ’n bose gees deur God gestuur is om u te teister.

16. Laat ons iemand kry wat goed op die lier kan speel. Wanneer die bose gees u lastig val, sal die musiek u kalmeer sodat u gou weer beter sal voel.”

17. “Goed,” sê Saul. “Soek iemand wat goed kan speel en bring hom na my toe.”

18. Een van Saul se amptenare sê toe vir hom: “Ek het ’n seun van Isai uit Betlehem teëgekom wat goed kan speel. Hy is dapper en ’n goeie vegter. Hy is goed met woorde en ook aantreklik. Die Here is met hom.”

19. Saul het boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Stuur jou seun Dawid, die skaapwagter, na my toe.”

20. Isai het ’n jong bokkie geneem, kos en wyn op ’n donkie gelaai en dit alles saam met sy seun Dawid na Saul toe gestuur.

21. So het dit gebeur dat Dawid in Saul se diens getree het. Saul het so baie van Dawid gehou dat Dawid selfs sy wapendraer geword het.

22. Saul laat weet toe vir Isai: “Laat Dawid tog vir my werk, want ek is baie tevrede met hom.”

23. Telkens wanneer die bose gees vir Saul kwel, het Dawid op die lier gespeel. Dit het Saul beter laat voel en die bose gees het hom laat staan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 16