Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:13-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Toe Samuel hom uiteindelik kry, het Saul hom vriendelik gegroet en gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die Here se opdrag uitgevoer!”

14. “Hoekom hoor ek dan die geblêr van skape en die gebulk van beeste?” vra Samuel.

15. “Die soldate het van die diere gespaar,” antwoord Saul. “Hulle het die beste van die skape en die beeste van Amalek saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons vernietig.”

16. Daarop sê Samuel vir Saul: “Wag ’n bietjie, laat ek jou vertel wat die Here laas nag vir my gesê het!”“Wat was dit?” vra Saul.

17. Samuel sê vir hom: “Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword. Die Here het jou tot koning van Israel gesalf.

18. Die Here het jou met hierdie opdrag gestuur en gesê: ‘Jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan vernietig en hulle almal totaal uitwis.’

19. Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy jou aan die buit vergryp en presies dit gedoen wat die Here gesê het jy nie moes doen nie?”

20. “Maar ek hét na die Here geluister,” hou Saul vol. “Ek het die opdrag wat Hy my gegee het, uitgevoer. Ek het koning Agag teruggebring, maar ek het al die ander mense doodgemaak.

21. Die soldate het die beste van die skape en beeste gebring om vir die Here u God in Gilgal te offer.”

22. Maar Samuel antwoord:“Wat verkies die Here:brandoffers of gehoorsaamheid?Gehoorsaamheid is beter as offers;om te luister is beter as die vet van ramme.

23. Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery,en hardkoppigheid is net so ’n sondesoos afgodery.Omdat jy die Here se woord verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

24. Toe bely Saul: “Ek het gesondig. Ek was ongehoorsaam aan die Here se opdrag en u voorskrifte, want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee.

25. Maar nou vra ek om vergifnis en dat u saam met my sal gaan om die Here te aanbid.”

26. Maar Samuel antwoord: “Ek sal nie saam met jou gaan nie! Omdat jy die Here se opdrag verwerp het, het Hy jou verwerp as koning oor Israel.”

27. Toe Samuel omdraai om te gaan, gryp Saul aan sy kleed sodat dit geskeur het.

28. Samuel sê vir hom: “Die Here het vandag die koninkryk van Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy.

29. Die Ewige van Israel lieg nie en sal ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens wat van gedagte verander nie!”

30. Saul het weer by hom gepleit: “Ek weet ek het gesondig. Maar asseblief, eer my voor die leiers en die manskappe deur saam met my te gaan om die Here u God te aanbid.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15