Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 1:13-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk.

14. “Moet jy dan besope hier aankom?” sê hy. “Los die drank uit!”

15. “O nee, Meneer!” antwoord sy. “Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die Here oopgemaak.

16. Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.”

17. “Gaan gerus,” sê Eli. “Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.”

18. “Baie dankie, Meneer!” antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie.

19. Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die Here aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die Here het Hanna se versoek onthou.

20. Sy het swanger geword en op die regte tyd geboorte gegee aan ’n seun. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom van die Here afgesmeek.”

21. Die volgende jaar het Elkana, Peninna en haar kinders soos gebruiklik vertrek om vir die Here te gaan offer.

22. Hanna het egter nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wag totdat die kindjie gespeen is. Dan sal ek hom neem om voor die Here te verskyn en lewenslank daar te bly.”

23. “Doen wat jy dink die beste is,” antwoord Elkana. “Bly hier totdat hy gespeen is, en mag die Here sy woord waar maak.” Sy het dus tuis gebly en die baba versorg.

24. Toe die kindjie gespeen is, het Hanna hom na die heiligdom van die Here in Silo geneem. Hulle het ’n driejaaroud bul as offer saamgeneem en ook omtrent sestien kilogram meel en wyn.

25. Nadat hulle die bul geoffer het, neem hulle die seuntjie na Eli toe.

26. “Meneer, onthou u my?” vra Hanna. “Ek is die vrou wat hier gestaan het en tot die Here gebid het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 1