Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:19-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Dawid het gedoen wat die Here hom deur Gad beveel het.

20. Arauna was besig om koring te dors toe hy omdraai en die engel sien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggehardloop en gaan wegkruip.

21. Toe Arauna sien dat die koning aankom, het hy sy dorsvloer verlaat en voor Dawid met sy gesig na die grond gebuig.

22. Dawid sê toe vir Arauna: “Laat my asseblief hierdie dorsvloer vir sy volle koopprys koop! Ek wil ’n altaar vir die Here hier bou sodat Hy hierdie plaag sal stop.”

23. “Vat dit, o Koning, en gebruik dit soos u wil,” het Arauna vir Dawid gesê. “Hier is ook beeste vir brandoffers en u kan die dorsgereedskap vir hout gebruik om die vuur op die altaar te maak. En vat die koring as ’n spysoffer. Ek wil dit alles vir u gee!”

24. Maar die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek dring daarop aan om te betaal wat dit werd is. Ek kan nie wat joune is, vat en vir die Here gee nie. Ek sal nie ’n brandoffer bring wat my niks kos nie!”

25. Dawid het Arauna toe byna sewe kilogram goud betaal vir die dorsvloer.

26. Dawid het daar ’n altaar vir die Here gebou en brandoffers en dankoffers geoffer. Terwyl Dawid gebid het, het die Here hom geantwoord met vuur uit die hemel wat sy offers op die altaar verbrand het.

27. Toe het die Here met die engel gepraat, en hy het sy swaard in die skede teruggesteek.

28. Dawid het op daardie tydstip gesien dat die Here sy gebed geantwoord het. Daarom het hy aangehou om offers op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, te offer.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21