Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 17:17-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, Here God!

18. Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is!

19. Ter wille van my, o Here, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak.

20. “Here, daar is niemand soos U nie. Daar is geen ander God nie. Ons het nog nooit eers gehoor van ’n ander god soos U nie!

21. Watter ander nasie op aarde is soos Israel? Watter ander nasie, o God, het U gered uit slawerny om u volk te wees? U het ’n groot Naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het. U het wonderdade gedoen en die nasies wat in u pad gestaan het, uitgedryf.

22. U het Israel gekies om u volk vir altyd te wees en U, o Here, het hulle God geword.

23. “En nou, Here, doen soos U belowe het oor my en my familie. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd geld!

24. En mag u Naam altyd gevestig en geëer word sodat die hele wêreld sal sê: ‘Die Here, die Almagtige, is God oor Israel!’ En mag die koningshuis van u kneg Dawid in u teenwoordigheid gevestig wees.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 17