Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:17-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Toe sê Miga vir hom: “In ’n visioen het ek Israel gesien, verstrooi op die berge soos skape sonder ’n herder. Die Here het gesê: ‘Hulle koning is dood. Laat elkeen van hulle maar in vrede teruggaan na sy huis toe.’”

18. “Het ek nie vir jou gesê nie?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy gee nooit enige uitspraak ten gunste van my nie.”

19. Miga het voortgegaan: “Luister wat die Here sê. Ek het die Here gesien waar Hy op sy troon sit met die hemelse leërmag weerskante van Hom.

20. Die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab gaan oortuig om teen Ramot-Gilead oorlog te maak sodat hy daar kan omkom?’ Hulle het hiernatoe en daarnatoe gepraat.

21. Uiteindelik het die leuengees voor die Here gaan staan en gesê: ‘Ek sal dit doen!’“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here vir hom.

22. “Die gees het geantwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oortuig om leuens te vertel.’“‘Jy sal slaag,’ sê die Here. ‘Gaan voort en doen dit.’

23. “U sien, die Here het ’n leuengees in die monde van die koning se profete gelê omdat die Here ’n ramp vir jou bepaal het.”

24. Toe gaan Sedekia seun van Kenaäna na Miga toe en slaan hom, deur die gesig. “Hoe het die Here se gees dan by my verbygegaan om met jou te praat?” vra hy.

25. Miga het geantwoord: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

26. Toe beveel die koning van Israel: “Arresteer Miga en vat hom na Amon, die burgemeester van die stad, en na my seun Joas toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22