Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:32-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. So sal die Here hom vergeld vir die moord op twee manne wat regverdiger en beter was as hy. Want my pa het geen deel gehad aan die dood van Abner seun van Ner en bevelvoerder van die leër van Israel nie, en ook nie aan dié van Amasa seun van Jeter en bevelvoerder van die leër van Juda nie.

33. Mag die skuld vir hierdie moorde vir altyd op Joab en sy nageslag rus, maar mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid, aan sy nageslag en aan sy troon.”

34. Benaja het toe teruggegaan en Joab in die heiligdom doodgemaak. Joab is begrawe by sy huis in die wildernis.

35. Die koning het vir Banaja seun van Jojada in die plek van Joab as bevelvoerder van die leër aangestel. Hy het ook vir Sadok die priester in die plek van Abjatar aangestel.

36. Daarna het die koning Simeï laat kom en vir hom gesê: “Bou vir jou ’n huis hier in Jerusalem en kom woon hier. Maar jy mag nie uit die stad weggaan om enigiets elders te doen nie.

37. Die dag as jy oor die Kidronspruit gaan, sal jy sekerlik doodgemaak word. Daarvoor sal jy net jouself moet blameer.”

38. Simeï het geantwoord: “Ek aanvaar u uitspraak. Ek sal doen soos die koning my beveel.” Simeï het toe ’n geruime tyd lank net in Jerusalem gebly.

39. Ongeveer drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop na koning Akis seun van Maäka, koning van Gat. Toe Simeï dit hoor,

40. het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om hulle te gaan soek. Toe hy hulle kry, het hy hulle na Jerusalem toe teruggebring.

41. Salomo het verneem dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe gegaan en teruggekom het.

42. Hy laat roep toe vir Simeï en vra: “Ek het jou tog voor die Here ’n eed laat aflê dat jy nêrens sou gaan nie, want dan sal jy sekerlik sterf. En jy het toe geantwoord: ‘Ek aanvaar die uitspraak. Ek sal maak soos u sê.’

43. Hoekom was jy dan nie getrou aan jou eed voor die Here nie? Hoekom het jy nie my bevel gehoorsaam nie?”

44. Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy onthou sekerlik al die slegte dinge wat jy teenoor my pa, koning Dawid, gedoen het. Mag die Here jou daarvoor straf.

45. Maar mag ek die ryke seëninge van die Here ontvang, en mag daar altyd een van Dawid se afstammelinge op hierdie troon sit.”

46. Op bevel van die koning het Benaja seun van Jojada toe vir Simeï buitentoe geneem en hom doodgemaak.

47. Nou het Salomo ten volle beheer oor die koninkryk gehad.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2