Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:28-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Jerobeam was ’n baie bekwame man sodat Salomo hom in beheer geplaas het van die dwangarbeid uit die stamme van Efraim en Manasse.

29. In hierdie tyd het die profeet Agija uit Silo Jerobeam net buite Jerusalem langs die pad teëgekom. Agija het ’n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld.

30. Agija vat toe die nuwe mantel en skeur dit in twaalf stukke.

31. Toe sê hy vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel sê: ‘So gaan Ek die koningskap van Salomo afskeur en tien van die stamme vir jou gee.

32. Ek sal een stam vir hom laat oorbly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het.

33. Dit sal gebeur omdat Salomo My verlaat het en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy leef nie meer volgens my wil nie en hy doen wat nie vir My reg is nie. Hy kom nie my gebooie en voorskrifte na soos sy pa Dawid gedoen het nie.

34. “‘Tog sal Ek nie die hele koningskap van hom wegneem nie. Ter wille van my dienaar Dawid, die een wat Ek gekies het en wat my bevele en gebooie gehoorsaam het, sal Ek Salomo toelaat om vir die res van sy lewe te regeer,

35. maar Ek sal die koninkryk van sy seun wegneem en tien van die stamme vir jou gee.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11