Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien en van die Naam van die Here hoor, het sy self gekom om hom met moeilike vrae te toets.

2. Sy het in Jerusalem aangekom saam met ’n groot gevolg en kamele belaai met speserye, baie goud en kosbare edelstene. Sy het met Salomo oor alles gepraat wat in haar gemoed was.

3. Salomo het ’n antwoord op elkeen van haar vrae gehad. Niks was vir die koning te moeilik om te verduidelik nie.

4. Die koningin van Skeba was beïndruk met Salomo se wysheid, die paleis wat hy gebou het,

5. die kos op sy tafel, hoe hy sy amptenare laat aansit het, die bediening en die uniforms van sy tafelbediendes en sy kelners, asook die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here geoffer het. Dit alles het haar na haar asem laat snak.

6. Sy sê toe vir die koning: “Alles wat ek in my land van u en u wysheid gehoor het, is waar!

7. Ek kon dit nie glo voordat ek hier aangekom het en dit self met my eie oë gesien het nie. Trouens, ek het nie eers van die helfte daarvan gehoor nie! U wysheid en voorspoed is baie meer as waarvan ek gehoor het.

8. Hoe bevoorreg is hierdie volk! Wat ’n voorreg vir u amptenare om in u diens te staan en hier dag vir dag u wysheid aan te hoor!

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10