Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 2:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. So sal dit ook wees op die oordeelsdag wanneer God, deur Jesus Christus, sal oordeel oor die verborge dieptes van ons lewe. Dít is deel van die Goeie Nuus wat ek verkondig.

17. Jy dra die naam van ’n Jood. Jy vertrou daarop dat jy oor die wet van God beskik en jy spog daarmee dat jy ’n spesiale verhouding met God het.

18. Ja, jy weet wat God van jou verwag; jy kan goed tussen reg en verkeerd onderskei omdat jy wetsonderrig ontvang het.

19. Jy beskou jouself as ’n gids vir die blindes, ’n ligbaken vir mense wat in die donker verkeer – sonder God.

20. Jy dink jy kan die onkundiges onderrig en die beginners touwys maak omdat die wet vir jou die beliggaming van alle kennis en waarheid is.

21. Hoe is dit dan dat jy wat vir ander leermeester speel, nie jou eie lesse ernstig opneem nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie ook self nie?

22. Jy wat sê dat ’n mens nie egbreuk mag pleeg nie, maak jy jou nie ook daaraan skuldig nie? Jy wat die afgode verafsku, doen jy nie ook mee aan die berowing van die tempels van die nie-Jode nie?

23. Ja, jy wat jou op God se wet beroem – jy beroof God van sy eer deurdat jy self sy wet oortree!

24. Geen wonder nie dat die Skrif sê: “Julle veroorsaak dat God se Naam onder die nie-Joodse nasies sleggemaak word.”

25. Die besnydenis beteken wel vir jou iets as jy God se wet gehoorsaam. Maar as jy die wet oortree, is jy niks beter daaraan toe as ’n onbesnede nie-Jood nie.

26. En as die onbesnede nie-Jode die bepalings van die wet nakom, sal God hulle dan nie beskou as besnedenes nie?

27. Ja, as iemand wat kragtens geboorte onbesnede is, tog God se wet gehoorsaam, sal dit selfs téén jou tel – jy wat met die letter van die wet, besnydenis en al, tog God se wet verbreek!

Lees volledige hoofstuk Romeine 2