hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

God oordeel almal regverdig

1. Jy sê dalk: “Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!” Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ’n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging.

2. Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is.

3. Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring?

4. God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?

5. Maar nee, omdat jy so verhard is en in jou hart weier om tot inkeer te kom, is jy besig om vir jou ’n verskriklike oordeel op die oordeelsdag op te bou – daardie dag wanneer God, die regverdige regter,

6. almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het.

7. Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee.

8. Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf.

9. Daar wag swaarkry en benoudheid vir elke mens wat aanhou kwaad doen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.

10. Maar daar wag heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat aanhou met goeddoen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.

11. God trek immers niemand voor nie.

12. Want almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan. En almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet veroordeel word.

13. Want dit is nie die blote aanhoor van die wet wat mense vrymaak van God se oordeel nie; dit is hulle wat God se wet gehoorsaam wat God se vryspraak ontvang.

14. Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ’n wet.

15. Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek.

16. So sal dit ook wees op die oordeelsdag wanneer God, deur Jesus Christus, sal oordeel oor die verborge dieptes van ons lewe. Dít is deel van die Goeie Nuus wat ek verkondig.

Ook die Jood staan skuldig voor

die wet

17. Jy dra die naam van ’n Jood. Jy vertrou daarop dat jy oor die wet van God beskik en jy spog daarmee dat jy ’n spesiale verhouding met God het.

18. Ja, jy weet wat God van jou verwag; jy kan goed tussen reg en verkeerd onderskei omdat jy wetsonderrig ontvang het.

19. Jy beskou jouself as ’n gids vir die blindes, ’n ligbaken vir mense wat in die donker verkeer – sonder God.

20. Jy dink jy kan die onkundiges onderrig en die beginners touwys maak omdat die wet vir jou die beliggaming van alle kennis en waarheid is.

21. Hoe is dit dan dat jy wat vir ander leermeester speel, nie jou eie lesse ernstig opneem nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie ook self nie?

22. Jy wat sê dat ’n mens nie egbreuk mag pleeg nie, maak jy jou nie ook daaraan skuldig nie? Jy wat die afgode verafsku, doen jy nie ook mee aan die berowing van die tempels van die nie-Jode nie?

23. Ja, jy wat jou op God se wet beroem – jy beroof God van sy eer deurdat jy self sy wet oortree!

24. Geen wonder nie dat die Skrif sê: “Julle veroorsaak dat God se Naam onder die nie-Joodse nasies sleggemaak word.”

25. Die besnydenis beteken wel vir jou iets as jy God se wet gehoorsaam. Maar as jy die wet oortree, is jy niks beter daaraan toe as ’n onbesnede nie-Jood nie.

26. En as die onbesnede nie-Jode die bepalings van die wet nakom, sal God hulle dan nie beskou as besnedenes nie?

27. Ja, as iemand wat kragtens geboorte onbesnede is, tog God se wet gehoorsaam, sal dit selfs téén jou tel – jy wat met die letter van die wet, besnydenis en al, tog God se wet verbreek!

28. Jy is nie ’n ware Jood bloot omdat jy in die openbaar as ’n Jood bekend staan of omdat jy uitwendig besny is nie.

29. Inteendeel, die ware Jood is dié een wat dit in sy binneste is. En die ware besnydenis is nie dié een wat aan jou liggaam verrig word nie; nee, dit is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word, nie deur wetsvoorskrifte nie. Só ’n persoon ontvang lof – nie van mense nie, maar van God.