Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 14:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. En as jy jou medegelowige ontstel deur wat jy eet, dan handel jy nie meer volgens die reël van die liefde nie. Jy moet tog nie deur wat jy eet iemand se lewe verwoes nie. Onthou, Christus het vir daardie medegelowige gesterf!

16. Sorg dan dat daar nie sleg gepraat word oor iets waarvan julle weet dat dit op sigself goed is nie.

17. As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk.

18. As jy Christus met hierdie gesindheid dien, maak jy God gelukkig en die mense rondom jou sal jou respekteer.

19. Kom ons strewe dus na harmonie onder mekaar en na dit wat ons onderlinge geestelike opbou sal bevorder.

20. Moenie langer toelaat dat die Here se werk afgebreek word en dit oor kos nie. Onthou, ’n mens kan alles eet, maar dit is sleg as jy deur iets wat jy eet ’n medegelowige laat struikel.

21. ’n Mens behoort nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets anders te doen wat ’n medegelowige laat struikel nie.

22. Jy is dalk persoonlik daarvan oortuig dat jy niks verkeerds doen nie, maar hou dit liewer tussen jou en God. Gelukkig is jy as jy nie jouself hoef te verwyt oor wat jy weet op sigself reg is nie.

23. Maar as jy twyfel en tog eet, staan jy veroordeel omdat jy nie volgens jou geloofsoortuiging handel nie. Alles wat jy nie uit volle geloofsoortuiging doen nie, is sonde.

Lees volledige hoofstuk Romeine 14