Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. My volgende vraag sou wees: Dit beteken tog seker nie dat God sy volk, die Jode, verstoot het nie? Natuurlik nie! Ek is mos ook ’n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin.

2. Nee, God het nie sy volk verstoot wat Hy van die begin af uitverkies het nie. Onthou julle nie wat die Skrif sê in die gedeelte oor Elia nie? Hoe hy hom teen Israel op God beroep het:

3. “Here, hulle het u profete doodgemaak en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen agtergebly en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

4. En onthou julle God se antwoord? Sy woorde was: “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie. Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baäl gekniel het nie.”

5. So is dit ook vandag nog. Daar het ’n klein groepie oorgebly wat God in sy genade uitverkies het.

6. En as dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie.

7. Dit alles kom daarop neer dat Israel nie die vryspraak gekry het waarna hulle deur nakoming van die wet gesoek het nie. Die klein groepie wat God vir Hom laat oorbly het, het dit egter wel gekry. Die meerderheid is egter innerlik verhard.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11