Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 9:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion.

12. Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna.

13. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God.

14. Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”

15. Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak.

16. Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is.

17. Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: Hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad. Die perde se koppe was soos dié van leeus en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael gestoom.

18. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke gestoom het, is ’n derde van die mense doodgemaak.

19. Die perde se vermoë om skade aan te rig, lê in hulle bekke, maar ook in hulle sterte, want hulle sterte het koppe net soos slange waarmee hulle die skade aanrig.

20. Die oorblywende mense wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie tot inkeer gekom wat hulle dade betref nie. Hulle het eenvoudig aangehou om die bose geeste te aanbid, asook die afgode van goud, silwer, brons, klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21. Hulle het hulle ook nie bekeer van hulle moorde of hulle toordery, seksuele sondes of stelery nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 9