Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3:5-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Die een wat aanhou oorwin, sal net so met wit klere aangetrek word. En Ek sal sy naam nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en sy engele getuig dat hy van mý mense is.

6. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

7. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Filadelfia. So sê die Heilige, die Betroubare – Hy wat die sleutel van Dawid houen deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; en Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie:

8. Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie.

9. Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het.

10. Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.

11. Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

12. Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam.

13. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

14. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die getroue en betroubare getuie, die oorsprong van God se skepping:

15. Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm.

16. Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.

17. Jy sê: “Ek is ryk; ek het skatryk geword en het aan niks behoefte nie.” Jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en kaal.

18. Ek gee jou daarom die raad om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk kan word; en koop vir jou wit klere om aan te trek sodat die skande van jou naaktheid nie algemeen sigbaar word nie; en koop ook oogsalf om aan jou oë te smeer sodat jy kan sien.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 3