Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3:3-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Probeer onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het; gehoorsaam dit en kom tot inkeer. As jy nie wakker word nie, sal Ek skielik op jou afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet presies wanneer Ek op jou afkom nie.

4. Maar jy het tog ’n klompie persone in Sardis wat nie hulle klere vuilgemaak het nie. Dit is hulle wat vir altyd saam met My in wit klere sal leef omdat hulle dit werd is.

5. Die een wat aanhou oorwin, sal net so met wit klere aangetrek word. En Ek sal sy naam nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en sy engele getuig dat hy van mý mense is.

6. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

7. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Filadelfia. So sê die Heilige, die Betroubare – Hy wat die sleutel van Dawid houen deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; en Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie:

8. Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie.

9. Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 3