Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Sardis: Só sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre vashou:Ek ken jou handel en wandel. Ek weet ook dat jy daarvoor bekend is dat jy lewe, maar jy is dood.

2. Word wakker en herstel wat nog oor is, wat op die drumpel van die dood is. Jou optrede vind Ek nie gepas in die teenwoordigheid van my God nie.

3. Probeer onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het; gehoorsaam dit en kom tot inkeer. As jy nie wakker word nie, sal Ek skielik op jou afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet presies wanneer Ek op jou afkom nie.

4. Maar jy het tog ’n klompie persone in Sardis wat nie hulle klere vuilgemaak het nie. Dit is hulle wat vir altyd saam met My in wit klere sal leef omdat hulle dit werd is.

5. Die een wat aanhou oorwin, sal net so met wit klere aangetrek word. En Ek sal sy naam nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en sy engele getuig dat hy van mý mense is.

6. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

7. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Filadelfia. So sê die Heilige, die Betroubare – Hy wat die sleutel van Dawid houen deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; en Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie:

8. Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie.

9. Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het.

10. Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.

11. Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

12. Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam.

13. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 3