Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 1:8-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

9. Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het.

10. Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor

11. sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12. Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien

13. en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak.

14. Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam.

15. Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome.

16. In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.

17. Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ’n lyk. Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees, Ek is die Eerste en die Laaste,

18. en die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 1