Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. By geleentheid het die dissipels van Johannes die Doper na Jesus toe gekom en Hom gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”

15. Jesus het geantwoord: “Dit is tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal treur solank die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Daar kom egter ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.

16. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.

17. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop. Dan is die sakke ook nog daarmee heen. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke; dan hou al twee goed.”

18. Jesus was nog besig om met hulle te praat toe daar ’n vername Joodse leier na Hom toe kom en voor Hom neerval met die woorde: “My dogter is nou net dood. Kom tog en sit u hand op haar en sy sal weer lewe.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 9