Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 3:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. En moet tog nie julleself mislei nie met die gedagte: ‘Ons is veilig. Ons is mos die nageslag van Abraham.’ Weet verseker, God kan selfs die klippe wat hier rondlê in kinders van Abraham verander.

10. “Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi.

11. “Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

12. Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Hy sal sy koring in sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie.”

13. Op ’n dag het Jesus van Galilea af by die Jordaanrivier aangekom om deur Johannes gedoop te word.

14. Maar Johannes wou Hom keer. “Ú behoort mý tog veel eerder te doop,” het hy gesê. “Dit is ongehoord dat U nou na my toe kom!”

15. Maar Jesus het hom geantwoord: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam.” Daarop het Johannes ingestem en Hom gedoop.

16. Ná Jesus se doop het Hy dadelik uit die water geklim. Net daar gaan die hemel toe vir Hom oop, en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal.

17. Daar kom toe ’n stem uit die hemel wat sê: “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 3