Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:50-62 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

50. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer.

51. Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap.

52. “Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word.

53. Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?

54. Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?”

55. Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie?

56. Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.” Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.

57. Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was.

58. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur.

59. Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei.

60. En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom

61. en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’”

62. Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?”

Lees volledige hoofstuk Matteus 26