Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 25:36-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’

37. “Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink?

38. En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee?

39. En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’

40. En die Koning sal vir hulle antwoord: ‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’

41. “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy bose engele!

42. Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie;

43. toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’

44. “Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’

45. Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’

46. “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 25