Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys.

2. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.”

3. Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

4. Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

5. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

6. Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

7. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees.

8. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is.

10. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24