Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Hulle oorlaai die mense met absoluut onmoontlike godsdienstige verpligtings, maar verroer nie ’n vinger om dit self uit te voer nie.

5. “Alles wat hulle doen, is vir die uiterlike vertoon. Daarvoor dra hulle op hulle arms en voorkoppe ekstra groot gebedsdosies met Skrifverse daarin en hulle maak die tossels aan hulle klere opvallend groot.

6. En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke by feesmaaltye en in die sinagoges nie!

7. Hulle geniet dit om spesiaal op straat gegroet te word en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8. Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters.

9. En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is.

10. En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self.

11. Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien.

12. Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”

13. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle blokkeer die koninkryk van God vir die mense. Julle gaan self nie daar in nie en boonop verhinder julle dié wat wel probeer ingaan.

15. Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle trek rond oor see en land om één proseliet te werf en dan maak julle van hom iemand wat op pad is hel toe, twee maal erger as julleself.

16. “Ellende wag vir julle, julle blinde gidse wat beweer: ‘As iemand by die heiligdom sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die goud van die tempel sweer, dan is dit bindend.’

17. Julle blinde dwase! Wat is die belangrikste, die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18. Verder sê julle: ‘As iemand by die altaar sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die offer bo-op die altaar sweer, is dit bindend.’

19. Hoe blind kan julle tog wees! Wat is immers belangriker, die offer of die altaar waardeur die offer geheilig word?

20. Wanneer jy by die altaar sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by alles wat daarop is.

21. En wanneer jy by die tempel sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by Hom wat daarin woon.

22. Net so, wanneer jy sweer by die hemel, sweer jy ook by die troon van God en boonop by Hom wat op die troon sit.

Lees volledige hoofstuk Matteus 23