Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:29-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes.

30. “Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’

31. Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het.

32. En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol!

33. Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug?

34. Let op, Ek sal vir julle profete en wyses en skrifkenners stuur. Julle sal sommige van hulle vermoor en kruisig en julle sal ander in julle sinagoges met swepe slaan en van die een dorp na die ander vervolg.

35. “So sal julle skuldig word aan die moord op al die vromes, van die regverdige Abel af tot by Sagaria, die seun van Berekja, wat julle by die tempel, tussen die heiligdom en die altaar vermoor het.

36. “Ek verseker julle, al die opgehoopte oordeel sal losbars oor hierdie generasie.”

37. “O Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoeveel maal wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar jy wou My dit nie toelaat nie!

38. “Julle moet besef, julle woning word vir julle verlate agtergelaat.

39. Ek verseker julle, julle sal My van nou af nooit weer sien nie tot op die dag wanneer julle sal sê: ‘Geseënd is die Een wat kom in die Naam van die Here!’”

Lees volledige hoofstuk Matteus 23