Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die grootste deel van die skare het hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en dit oor die pad uitgesprei.

9. Met Jesus in die middel van die optog het die skare uitgeroep:“Prys God vir die Seun van Dawid!Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam!Prys God in die hoogste hemel!”

10. Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?”

11. Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.”

12. Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi

13. en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf: ‘My huis is bedoel om ’n huis van gebed te wees, maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak.’”

14. Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak.

15. Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld

16. en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?”

17. Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het.

Lees volledige hoofstuk Matteus 21