Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 20:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ’n voldag se betaling.

10. Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon.

11. “Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer

12. en gesê: ‘Hierdie laatkommers het net ’n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’

13. “Hy reageer toe teenoor een van hulle: ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie. Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie?

14. Neem dit en gaan. Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou.

15. Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink? Of voel jy bitter omdat ek so gaaf is?’

16. “So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

17. Terwyl Jesus na Jerusalem onderweg was, het Hy sy dissipels opsy geneem en vir hulle gesê:

18. “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel.

19. En hulle sal My uitlewer aan die Romeine om gespot en gegésel en gekruisig te word. Maar op die derde dag sal Ek uit die dood opgewek word.”

20. Daarop kom die ma van Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe met haar twee seuns. Sy kniel toe eerbiedig neer om van Hom ’n guns te vra.

21. “Wat is jou versoek?” het Jesus haar gevra. Sy het geantwoord: “In u koninkryk, wanneer U op u troon sit, mag my twee seuns op die ereplekke regs en links van U sit?”

Lees volledige hoofstuk Matteus 20