Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 19:9-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.”

10. Sy dissipels sê vir Hom: “As dit met mans en vroue die geval is, moet ’n mens maar liewer nie trou nie!”

11. “Nie almal sal met julle saamstem nie,” het Hy vir hulle geantwoord. “Daar is dié vir wie dit gegee is om nie te trou nie.

12. Sommige is so van hulle geboorte af; ander is deur menslike mishandeling so gemaak; nog ander het ter wille van die koningsheerskappy van God self verkies om so te bly. Wie die nodige insig het, laat hy dit verwerk.”

13. Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek.

14. Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”

15. En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek.

16. Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”

17. Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.”

18. Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?”Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie;

19. respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

20. “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?”

21. Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.”

22. Toe die jong man dít hoor, het hy geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle dit is bitter moeilik vir ’n ryke om in God se koninkryk in te gaan.

24. Ek wil dit beklemtoon, dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te gaan as wat dit vir ’n ryke is om in God se koninkryk in te gaan.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 19