Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 17:14-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Toe hulle by die skare aan die voet van die berg kom, nader iemand vir Jesus en val voor Hom neer.

15. Hy sê: “Here, ontferm U oor my seun! Hy kry epileptiese aanvalle en hy ly verskriklik. Baie maal val hy in die vuur of in die water.

16. Ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.”

17. Jesus se reaksie was: “O julle ongelowige en ontaarde mense! Hoe lank sal Ek dit nog by julle uithou? Bring die seun hier.”

18. Daarop het Jesus die bose gees in die seun skerp aangespreek en dit het hom verlaat. Onmiddellik was die kind gesond.

19. Agterna het die dissipels Jesus privaat gevra: “Waarom kon ons nie die duiwel uitdryf nie?”

20. “Julle geloof was nie sterk genoeg nie,” was Jesus se antwoord. “Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

22. Weer terug in Galilea het Jesus vir hulle gesê: “God het bepaal dat die Seun van die Mens oorgegee moet word in die hande van mense.

23. Hulle sal Hom doodmaak, maar God sal Hom op die derde dag weer opwek.” En die dissipels was baie geskok om dit te hoor.

24. By hulle aankoms in Kapernaum, het die beamptes wat die tempelbelasting invorder vir Petrus genader met die woorde: “Betaal julle leermeester dan nie die tempelbelasting nie?”

25. Hy antwoord toe: “Natuurlik betaal Hy dit!” Toe hy tuiskom om met Jesus daaroor te praat, spring Jesus hom voor en vra: “Petrus, hoe sou jy sê, van wie vorder die konings van hierdie wêreld tolgeld en belastings in – van hulle eie mense of van die buitelanders wat hulle verslaan het?”

26. Toe hy antwoord: “Van die buitelanders,” sê Jesus vir hom: “Dan is hulle eie mense mos vrygestel.

27. Maar om hulle liewer nie aanstoot te gee nie – gaan jy af see toe en gooi jou lyn in. Die eerste vis wat jy uittrek – maak sy bek oop en jy sal ’n muntstuk daarin kry. Vat dit en dan gaan betaal jy ons al twee se belasting daarmee.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 17