Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 17:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ’n hoë berg uit waar hulle alleen was.

2. En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander. Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword.

3. En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.

4. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

5. Maar terwyl hy nog praat, oordek ’n helderglansende wolk hulle, en daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê.”

6. Toe hulle dit hoor, het die dissipels plat op die grond neergeval. Hulle het groot geskrik.

7. Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle: “Staan gerus maar op; moenie bang wees nie.”

8. Toe hulle opkyk, sien hulle niemand anders meer daar nie, net vir Jesus alleen.

9. Terwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie, totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgewek word.”

10. Sy dissipels vra Hom toe: “Hoe sê die skrifkenners dan dat Elia eers moet kom voordat die Messias kom?”

11. Waarop Jesus antwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles in orde te bring.

12. Maar Ek verseker julle, hy het al klaar gekom; tog het hulle hom nie herken nie, maar baie sleg behandel. Net so moet Ek, die Seun van die Mens, ook onder hulle ly.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 17