Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek.

22. Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!”

23. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.”

24. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom.

25. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind.

26. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.

27. Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader beklee wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade.

28. Dít verseker Ek julle, sommige van julle wat hier staan, sal nie sterf voordat julle sal sien hoe Ek, die Seun van die Mens, kom en regeer in my koninkryk nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 16