Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16:15-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”

16. Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.”

17. Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie.

18. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie.

19. Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’”

20. Hy gee toe streng opdrag aan sy dissipels om vir niemand te vertel dat Hy die Messias is nie.

21. Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek.

22. Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!”

23. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.”

24. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom.

Lees volledige hoofstuk Matteus 16