Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op ’n dag kom die Fariseërs en Sadduseërs na Jesus toe om die egtheid van sy aansprake te toets. Hulle vra Hom toe om aan hulle ’n Goddelike wonderteken te gee.

2. Hy antwoord hulle toe: “Julle ken die gesegde: ‘Rooi lug skemeraand beteken mooi weer môre;

3. toegetrekte rooi lug met vroegdag beteken slegte weer deur die dag.’ Julle verstaan die kuns om die weervooruitsig uit die tekens in die lug te lees; hoe kan julle dan nie die duidelike tekens raaksien van die besondere tyd waarin julle julle bevind nie?

4. Dit is net ’n slegte en ontroue geslag mense wat ’n wonderteken wil hê. Die enigste teken wat Ek vir hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona.” Hy het hulle toe net daar gelos en weggegaan.

5. Later, nadat hulle die see oorgesteek het, ontdek die dissipels dat hulle vergeet het om kos saam te neem.

6. Jesus sê toe vir hulle: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

7. Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood saamgebring het nie.”

8. Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom argumenteer julle onder mekaar, dat julle nie brood het nie? Het julle so min vertroue in My?

9. Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie van die vyf brode vir die 5 000, en hoeveel mandjies vol julle agterna bymekaargemaak het nie?

10. En die sewe brode vir die 4 000, en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?

Lees volledige hoofstuk Matteus 16