Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:15-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.”

16. Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.”

17. “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.”

18. “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê.

19. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare.

20. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel!

21. Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders.

22. Dadelik hierna het Jesus sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur.

23. Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar.

24. Ondertussen was die skuit reeds ver van die land af. Met ’n sterk wind teen hulle moes hulle teen woeste golwe veg.

25. Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook.

27. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”

28. Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.”

29. “Kom dan,” het Jesus gesê. Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.

Lees volledige hoofstuk Matteus 14