Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Juis in daardie tyd het Herodes Antipas van Jesus se optrede gehoor.

2. Daarop sê hy vir sy paleispersoneel: “Hierdie man is niemand anders as Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het nie! Daarom kan hy sulke wonderwerke doen.”

3. Herodes het vir Johannes oor Herodias laat arresteer, hom geboei en in die tronk gegooi. Herodias was sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het haar vir homself toegeëien. Johannes het hom hieroor herhaaldelik aangespreek en vir hom gesê:

4. “Jy mag dit nie doen nie.”

5. Hieroor wou Herodes hom om die lewe bring, maar hy was bang vir die volk se reaksie, want in hulle oë was Johannes ’n profeet.

6. Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee

7. dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”

8. Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”

9. Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.

10. Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.

11. Sy kop is op ’n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het.

12. Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe. Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Matteus 14