Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:38-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

38. Johannes sê toe vir Hom: “Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.”

39. “Moenie hom keer nie,” het Jesus gesê, “want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie.

40. Wie nie teen ons is nie, is vir ons.

41. Ek verseker julle, as enigiemand vir julle ’n beker water gee omdat julle van die Messias se mense is, sal God hom beslis daarvoor beloon.”

42. “Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, in sy geloof laat struikel, sal dit vir daardie persoon beter wees om in die see gegooi te word met ’n swaar meulsteen vasgemaak om sy nek.

43. En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met een hand te lewe as om met twee hande en al in die hel te beland waar die vuur nooit geblus word nie.

45. En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met net een voet te lewe as om met twee voete en al in die hel te beland.

47. En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is vir jou beter om met een oog in God se koninkryk in te gaan, as om met twee oë en al in die hel te beland

48. waar die wurm nooit doodgaan nie en die vuur nooit geblus word nie.

49. “Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk.

50. Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe.”

Lees volledige hoofstuk Markus 9