Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:29-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”

30. Hulle het toe daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou dit egter nie rugbaar laat word nie,

31. want Hy wou tyd hê om sy dissipels te onderrig. Sy woorde aan hulle was: “Die Seun van die Mens gaan aan die mag van mense oorgegee word. Hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”

32. Hulle het dit nie verstaan nie, maar was te bang om Hom daaroor uit te vra.

33. Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?”

34. Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is.

35. Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”

36. Toe laat Hy ’n kindjie tussen hulle staan en slaan sy arms om hom met die woorde:

37. “As jy een van hierdie kindertjies in my Naam verwelkom, verwelkom jy vir My. En as jy My verwelkom, verwelkom jy nie net vir My nie; jy verwelkom ook my Vader wat My gestuur het.”

38. Johannes sê toe vir Hom: “Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.”

39. “Moenie hom keer nie,” het Jesus gesê, “want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie.

40. Wie nie teen ons is nie, is vir ons.

41. Ek verseker julle, as enigiemand vir julle ’n beker water gee omdat julle van die Messias se mense is, sal God hom beslis daarvoor beloon.”

Lees volledige hoofstuk Markus 9